Proteas draf Sri Lanka kaf in eerste toets

Die Proteas het gister met vasberade weerstand deur Sri Lanka se kolwers te doen gekry voor hulle die eerste toets op Kingsmead op die vierde dag met 233 lopies kon wen. Sri Lanka moes 516 aanteken om te wen, maar is vir 282 uitgeboul. Die hotklou-snelbouler Marco Jansen, wat grootliks gesorg het vir Sri Lanka se rekordlae eerstebeurttelling van 42, het vier paaltjies vir 73 laat kantel vir wedstrydsyfers van elf vir 86. In teenstelling met die eerste beurt, het die besoekers die Proteas gister laat werk vir hulle paaltjies. Die tweede toets begin Donderdag in Gqeberha.