Pro-Palestynse betogers in Amsterdam aangekeer

Dosyne pro-Palestynse betogers word deur die polisie in Amsterdam aangehou nadat hulle ‘n verbod op openbare betogings in die Nederlandse hoofstad uitgedaag het. Honderde het Sondag op Damplein byeengekom en gevra dat die konflik in Gaza beëindig moet word en hulle teenstand teen die verbod uitgespreek. Betogings is tydelik deur die burgemeester verbied nadat Israeliese sokkeraanhangers Donderdagaand geteiken is ná ’n wedstryd tussen Maccabi Tel Aviv en Ajax Amsterdam. Die Israeliese ambassade in Nederland het Israeli’s in Amsterdam gewaarsku om die Damplein te vermy en gesê die betoging “kan opvlam tot beduidende gewelddadige voorvalle”.