Privaatpraktisyns nader Namfisa oor Namaf se ‘slinkse plan’

Die aankondiging deur die Vereniging van Namibiese Mediese Fondse, bekend as Namaf dat 2023 se standaardtariewe tot ten minste die einde van die eerste kwartaal in 2024 onveranderd sal bly, is in wese ’n verlaging van lede se voordele omdat fondse nie lede vir mediese inflasie sal vergoed nie. Mediese inflasie word grootliks aangedryf deur eksterne faktore. Sommige mediese fondse het reeds aangedui lede se bydraes styg met byna 11 persent – onderhewig aan goedkeuring van Namfisa. Die Namibiese Private Praktisynsforum beraadslaag tans met die breër private gesondheidsorgbedryf om Namfisa te versoek om Namaf en mediese fondse nie toe te laat om met sy onwettige optrede voort te gaan en lede se voordele op ’n slinkse manier te verminder nie.