Prinses Anne is uit die hospitaal ontslaan na behandeling van kopbesering

Prinses Anne, suster van koning Charles, is vandag uit die hospitaal ontslaan nadat sy vir ‘n ligte kopbesering en harsingskudding behandel is. Die Princess Royal (73) is Sondag hospitaal toe geneem nadat sy vermoedelik deur ‘n perd op haar Gloucestershire-landgoed beseer is. Haar man, vise-admiraal Sir Tim Laurence, het in ‘n kort verklaring hospitaalpersoneel bedank vir hul vriendelikheid.

“Ek wil graag my hartlike dank uitspreek aan die hele span by die Southmead-hospitaal vir hul sorg, kundigheid en vriendelikheid tydens my vrou se kort verblyf,” het Sir Tim ná haar terugkeer huis toe gesê.

Prinses Anne het die Southmead-hospitaal vroeër vanoggend diskreet verlaat. Sy het glo teruggekeer na haar plattelandse huis by Gatcombe Park naby Minchinhampton.

Foto verskaf: Associated Press