President Mbumba open neënde sitting van die sewende parlement

Die Nasionale Vergadering was vanmiddag ‘n see van swart as ‘n teken van respek vir wyle president Hage Geingob. President Nangolo Mbumba het die neënde sitting van die sewende parlement geopen voor die vergaderde lede van beide huise. President Mbumba sê tydens sy openingstoespraak dat Namibiërs in November na die stemlokale gaan, en in die lig hiervan vra hy die parlementslede om hul energie te fokus om landswette te verbeter.

Vanjaar sal 15 wetsontwerpe in die parlement ter tafel gelê word. Onder hulle is die wetsontwerpe vir elektrisiteit, paaie, grond, voertuigmassa, streekskiesafdelings en huwelike. President Mbumba sê hy hoop hierdie wetsontwerpe word sonder versuim aanvaar.