Pous in spervuur na ‘homofobiese’ uitlating
Pous Franciskus word beskuldig dat hy verlede week in Rome tydens ʼn privaat vergadering met biskoppe ʼn beledigende woord gebruik het. Italiaanse koerante berig die 87-jarige pous het glo die biskoppe aangesê om nie gay mans toe te laat om as priesters opgelei te word nie, en ʼn hoogs beledigende woord gebruik. Sy opmerkings is gemaak tydens biskoppe se voorstelle om riglyne te wysig vir kandidate wat by kweekskole toegelaat word. Die koerante sê die pous was moontlik nie bewus hoe beledigend dit was nie omdat Italiaans sy tweede taal is.