Posbank herhaal goue Sassa-kaarte bly geldig vir 2024

Die Posbank het begunstigdes van die Suid-Afrikaanse Maatskaplike Sekerheidsagentskap, Sassa, opnuut verseker dat hul goue kaarte wat verval het, vir die res van 2024 geldig is. Die bank maan begunstigdes om hulle nié aan vals inligting te steur nie. Hy beklemtoon dat slegs die Posbank dié kaarte kan vervang. Die woordvoerder van die bank, Bongani Diako, sê hoewel die Posbank van Maart af mettertyd kontantdienste by sy takke sal beëindig, kan mense wie se kaarte verlore of gesteel is, steeds nuwe kaarte by takke kry.