Pohamba sê (weer) nee vir vee in Bwabwata

Die omgewingsminister Pohamba Shifeta sê vee sal nie in die Bwabwata Nasionale Park toegelaat word nie. Dit is reeds so deur die kabinet beslis. Die Hambukushu is sedert die park in 2007 geproklameer is, ontevrede en meen hulle is nie gekonsulteer nie en ook dat die benutting van natuurlike hulpbronne nie ordentlik beplan is nie. Maar, Shifeta sê die verbod op vee, en veral bees in die park, handel nie oor mens-dier konflik nie, maar eerder oor bek- en klouseer. Shifeta sê die park strek ver oos tot naby Divundu wat ‘n gebied is wat bekend is vir bek- en klouseer. Dus meen hy, handel die verbod oor die beskerming van die beesbedryf in die land sowel as die boere self omdat hulle vee nie as siekte-vry verklaar kan word nie. Die Hambukushu sê die park lê in hul voorvaderlike gebied en die tradisionele owerheid wil beheer oor die park hê.