Plaaswerker in sop oor duiker-, gompouvleis
NamPol in die Oshikoto-streek het ‘n 46-jarige Namibiese man gearresteer wat na bewering in besit gevind is van duikervleis en stukkies gompouvleis. Oshikoto NamPol se misdaadondersoek-koördineerder, Titus Ekandjo, sê die voorval was op ‘n plaas in privaat besit in die Cham-Cham-omgewing in die Nehale Lyampingana-kiesafdeling. Die verdagte is ‘n plaaswerker en het na bewering die plaaseienaar se haelgeweer gebruik. Hy sal in die Tsumeb Landdroshof verskyn op klagte van jag van beskermde wild en wildvoëls sonder ‘n permit.