Plaaswerker gesoek op twee klagte van moord

Die Namibiese polisie het bevestig dat hulle opsoek is na ‘n plaaswerker van die plaas Josephine naby Dordabis. Volgens die mag, het owerhede die oorskot van twee plaaswerkers Dinsdagoggend gevind na hulle na die plaas ontbied is. Dit volg na ‘n plaaswerker die plaaseienaar, afgetrede regter Gerhard Maritz, geskakel het oor ‘n beweerde gewapende roof met ses gewapende mans wat toegang tot die kluis wou gehad het. Maritz het die polisie geskakel en gevra om ondersoek op die plaas in te stel. Die polisie sê die twee werkers is ten minste drie dae vroeër geskiet en dat die plaaswerker wat die oproep gemaak het ook drie dae van te vore, die plaas verlaat het. Die mag vermoed dat die werker die ander twee geskiet het en weggekom het met twee wapens en ‘n Toyota Landcruiser. Sy identiteit is bekend en beamptes is ontplooi.