Phala Phala-bediende sê sy het nie ontvoeringsklag teen Cyril gemaak nie

Plaaslike media berig dat die Namibiese burger, Floriana Joseph, wat as bediende op President Cyril Ramaphosa se Phala Phala-wildplaas gewerk het en blykbaar die vyf diewe na die kontant toe gelei het, ontken het dat sy ‘n saak van ontvoering teen Ramaphosa gemaak het. Sy is by die naam genoem deur Arthur Fraser in sy verklaring oor die roof. Volgens wat berig word is Joseph Immanuwela David, een van die vyf Namibiese burgers wat die geld blykbaar gebuit het, se suster. Daar word beweer dat hulle in die Kaap vasgetrek is en daar ondervra is. Hulle is blykbaar ook gemartel. Daar word verder beweer dat hulle elk 150 000 Namibiese dollar deur Ramaphosa betaal is in ruil vir hulle stilte oor die saak. Joseph ontken dat sy enige saak gemaak het maar het, volgens ‘n verslag deur die waarnemende openbare beskermer in Suid-Afrika Kholeka Gcaleka, haar handtekening op die dokument bevestig.