PG moet besluit oor Rooies se medebeskuldigdes

Die kantoor van die aanklaer-generaal sal besluit of die saak teen oudlanddros en die voortvlugtige Walter Rooies Mostert se medebeskuldigdes apart van sy saak kan voortgaan. Daar is vroeër so ooreengekom maar, aanklaer Bernadine Shimutwikeni het aan landdros Esme Molefe gesê die aanklaer-generaal moet daarvoor goedkeuring gee. Daar is 29 klagte, wat ook teen Mostert gelê is, teen Joyline Kambutuku, Eveline Meroro en Salomo Joram aanhangig gemaak. Die staat beweer dat Mostert in 2012 ‘n Suid-Afrikaanse familie onwettige burgerskap laat bekom het deur vervalste dokumente in te dien en verder, dat hy in 2013, nog ‘n familie bedrieg het en meer as 340 000 Namibiese dollar uit hulle gemaak het. Sy drie medebeskuldigdes het hom na bewering gehelp om die dokumente en meer te bekom. Mostert het op 5 November verlede jaar ontsnap uit aanhouding. Die saak is tot 3 Junie uitgestel vir ‘n besluit.