PDM vra verskoning oor joernalis se foto op verkiesing-biljet

Die PDM het ‘n joernalis van Network Media Hub, Elizabeth //Kheibes, om verskoning gevra na die party ‘n foto van haar gebruik het op verkiesingsmateriaal. Die party sê hy het nie geweet sy is ‘n joernalis nie, en vra om verskoning vir enige skade wat dit haar professionele en persoonlike beeld kon berokken het. Die party sê hy het op 11 November ‘n kiesersopvoeding-strooibiljet gepubliseer wat op verskeie sosiale media-platforms versprei is. Vir illustratiewe doeleindes is ‘n foto van ‘n vrou met ‘n kiesersregistrasiekaart op die strooibiljet gebruik. Die identiteit van die vrou was nie bekend nie maar toe hulle uitgevind het dit is //Kheibes, het hulle die materiaal dadelik verwyder. Die PDM erken die onafhanklikheid en onpartydigheid van die pers as ‘n hoeksteen van Namibië se demokratiese bedeling. Hy sê daar is interne regstellende maatreëls getref om te verseker dat so ‘n fout nie herhaal word nie.