Pastoor vas vir verkragting
Die Namibiese polisie in die Omusati-streek het ‘n pastoor wat gesoek is omdat hy na bewering ‘n 15-jarige meisie by die Okando-dorpie in die Oshikuku-kiesafdeling tussen Junie 2020 en September 2022 verkrag het, in hegtenis geneem. Die streek se koördineerder vir misdaadondersoek, adjunkkommissaris Moses Simaho, sê hy is laat Maandag gearresteer en sal vanoggend in die Outapi-landdroshof verskyn. Volgens Simaho is die saak eers verlede week Donderdag by die polisie aangemeld deur die 18-jarige vrou wat saam met die slagoffer woon. Hy voeg by dit was nie ‘n eenmalige verkragting nie.