Parys kalmer ná dae van onrus

Die situasie in die Franse hoofstad Parys is aansienlik kalmer ná dae van onrus oor die skietdood van ‘n 17-jarige seun. Gewelddadige betogers het groot skade aangerig aan winkels, voertuie en openbare plekke nadat ‘n polisiebeampte die seun by ‘n padblokkade in Nanterre geskiet het. Hy is glo aangesê om stil te hou, maar het weggery en is noodlottig gewond. Franse President Emmanuel Macron het ministers tydens ‘n noodvergadering gevra om te sorg dat wet en orde herstel word. Die ontplooiing van 45 000 polisielede landwyd bly van krag. Meer as 2 000 betogers is in hegtenis geneem in verband met openbare geweld.