Ovaherero opperhoof: Splintergroep gaan hof toe

‘n Splintergroep van die Ovaherero Tradisionele Owerheid wil hoërhof toe gaan om die aanstelling van die nuwe opperhoof teen te staan. Die groep, onder leiding van hoofman Vipuira Kapuuo, het verlede week ‘n brief deur hul regsverteenwoordiger na die waarnemende opperhoof, Boas Tjingaete, en die nuwe aangewese opperhoof Mutjinde Katjiua, gestuur en hulle met die hoërhof gedreig. Katjiua en Tjingaete is in Desember aangestel as onderskeidelik waarnemende en aangewese opperhoof. Volgens berigte sal Katjiua die naweek as opperhoof ingehuldig word om wyle advokaat Vekuii Rukoro op te volg. Volgens Muhipa Nditonganga van die owerheid, is daar onsekerheid waar dit die naweek sal plaasvind.