Ouers wat blykbaar baba vermoor, weer in die hof

Die Namibiese ouerpaar wat aangekla is vir die moord van hul twee maande oue baba, Monica Blessing Swartbooi,sal weer vandag in die landdroshof op Okahandja verskyn. Die 32-jarige Lourencious Goigoariseb en die 31-jarige Roselda Swartbooi het op 3 Februarie voor waarnemende landdros Revival /Goagoses verskyn, wat die saak tot vandag toe vir verdere polisie-ondersoek uitgestel het. Goigoariseb het gekies om aansoek te doen vir ‘n regshulpprokureur, terwyl Roselda haarself in die hof sal verdedig. Staatsaanklaer Sirkka Nangolo het borgtog teengestaan en meen die egpaar kan dalk inmeng met die staatsgetuies. Volgens die Namibiese polisie het die ouerpaar tydens ‘n rusie die baba gegryp en elkeen het aan ‘n kant van haar getrek. Ná die rusie het hulle gaan slaap en toe die ma die baba later wou borsvoed, het sy ontdek dat die baba nie asemhaal nie. Die babameisie het sigbare kneusplekke aan haar liggaam gehad.