Otjiwarongo kanselleer HUB onderhoudproses

Die Otjiwarongo Munisipaliteit het die onderhoudproses om ‘n nuwe hoof uitvoerende beampte te werf, gekanselleer. Die pos is vakant sedert einde Julie. Otjiwarongo burgemeester Gottlieb Shivute sê die onderhoud-paneellede het onreëlmatighede, soos “wesenlike weglating”, bespeur. Die kansellasie-besluit is tydens ‘n spesiale raadsvergadering geneem en ‘n kortlyskomitee sal aangestel word om die 47 aansoeke wat ingedien is, te herevalueer. Dit moet teen die eerste week van Januarie voltooi wees, waarna die onderhoude gevoer sal word. Die munisipaliteit se strategiese bestuurder vir gemeenskapsontwikkelingsdienste, Erickson Mwanyekange, neem intussen waar as hoof uitvoerende beampte.