Oorspronklike lid van Jackson 5, Tito Jackson, sterf

Michael en Janet Jackson se broer Tito is oorlede. Hy was 70. Tito Jackson was saam met sy broers Jackie, Jermaine, Marlon en Michael, lid van die popgroep The Jackson 5. Michael is in 2009 dood. Die groep het in die 1970’s verskeie nommer-eentreffers opgelewer, soos ABC en I Want You Back, en is in 1997 in die Rock & Roll-heldesaal opgeneem. Tito se seuns, Taj, Taryll en TJ, sê hul pa was ‘n ongelooflike man wat vir almal omgegee het.