Twee oorledenes van kitsvloede deur straatkinders uitgeken

Die Namibiese polisie het bevestig dat ‘n soektog na vier vermiste straatkinders van stapel gestuur is ná tien van dié haweloses deur die kitsvloede Woensdag in Windhoek meegesleur is. Nampol-woordvoerder, adjunk-kommissaris Kauna Shikwambi, sê die tien straatkinders is meegesleur terwyl hulle in ‘n tonnel agter die Game-winkelkompleks in die middedorp geskuil het. Die liggame van ‘n kind en ‘n man is Donderdag gevind. Een van die oorledenes was van Gobabis en een van Katutura. Sy sê die oorledenes is deur een van die oorlewendes uitgeken, maar hulle was slegs aan hul byname geken en hul naasbestaandes is nog nie ingelig nie.