Ontwikkeling sal sloer, Namibië voer 71,2% van sy krag in

In sy kwartaallikse ekonomiese hersiening sê die Instituut vir Openbare Beleidsnavorsing dat ten spyte van die reeks nuwe binnelandse opwekkingskapasiteit wat die afgelope paar jaar in werking gekom het, was Namibië in 2022 meer as ooit aangewese op elektrisiteitsinvoere. NamPower maak staat op Ruacana en Omburu wat saam net minder as 370 megawatt se kapasiteit het met Anixas en Von Eck wat bystand elektrisiteit genereer. Die instituut sê van die van die totale toevoer van 4 097 gigawatt-ure het NamPower 816 verskaf met huishoudelike insette en die 14 onafhanklike kragprodusente wat ‘n verdere 364 gigawatt-ure voorsien het. Suid-Afrika se Eskom het 1 253 voorsien met Zambië se Zesco op 1 018, en Zimbabwe op 390. Die res is ten duurste in die Suider-Afrikaanse kragpoel aangekoop. Dus, het Namibië 71,2 persent van sy krag ingevoer wat die land uiters kwesbaar maak vir ontwikkelings in die streek en sy eie ontwikkeling in gedrang plaas. Sonder energie is daar nie aktiwiteit nie.