Ons is in ons 20’s, maar leef in die 1940’s

‘n Paartjie in hul 20’s het besluit om hul lewens te leef asof dit die 1940’s is.

Liberty Avery (24) en Greg Kirby (29) van Ditchingham in Norfolk trek elke dag tradisionele klere aan en besit outydse meubels uit die era. Hulle gaan op 40’s-tema vakansies, besit ‘n 1942 Amerikaanse Jeep en, natuurlik, was pragtig geklee in 40’s uitrustings vir hul troudag.

Mnr Kirby het gesê: “Dit is net ‘n eenvoudige lewe, regtig. Ons het probeer om ons troue so 40’s as moontlik te maak; tradisioneel, soos ons grootouers dit dalk sou gedoen het,” het hy bygevoeg. “Hulle sou nie noodwendig ‘n groot bedrag spandeer het nie, so ons het ook nie.”

Die egpaar het ‘n tradisionele kerktroue gehad, na ‘n kroeg gegaan vir kos en ‘n dans in die plaaslike dorpsaal gehad om dit te vier. Hulle het ook ‘n week in Brighton deurgebring vir hul wittebrood.

“Die reaksie wanneer ons in die straat stap is oor die algemeen positief,” het me Avery gesê. “Ons kry wel die enkele grappie, maar dit is ‘n lekker manier om mense te ontmoet, omdat mense ons nader.”

Die egpaar beperk hul tyd soveel as moontlik met tegnologie, speel saans bordspeletjies en gaan oor naweke na tradisionele danse. Me Avery, ‘n outydse kleremaker, bak ook graag met 1940’s resepte en kombuisware uit daardie tydperk. Maar sy het erken dat hulle soms kort pouses van die era neem.

“Die ou flieks kan nogal ernstig en donker wees, so Greg moedig ons aan om nou en dan iets meer onlangs te kyk,” het sy gesê.