Ongwen-slagoffers kry US$56m
Byna 50 000 slagoffers van die Ugandese burgermag bevelvoerder Dominic Ongwen sal 56 miljoen Amerikaanse dollar as vergoeding ontvang. Die Internasionale Strafhof het die beslissing gemaak. Ongwen, ‘n voormalige kindersoldaat wat deur die geledere gestyg het om een van die topbevelvoerders van die berugte Lord’s Resistance Army-rebelle te word, het nie die hulpbronne om self die vergoeding te betaal nie. Ongwen is in 2021 skuldig bevind en tot 25 jaar tronkstraf gevonnis op 60 aanklagte van oorlogsmisdade en misdade teen die mensdom, insluitend verkragting, moord en kinderontvoering. Hy dien tans sy vonnis in Noorweë uit.