Onenigheid tussen Hage en Netumbo wéér ontken

Die ministerie van internasionale betrekkinge het bewerings op sosiale media ontken dat daar onenigheid tussen President Hage Geingob en sy adjunk-premier Netumbo Nandi-Ndaitwah is. Luidens ’n mediaverklaring spruit die bewerings uit die afwesigheid van Nandi-Ndaitwah by die oorhandiging van geloofsbriewe aan buitelandse ambassadeurs en hoëkommissarisse aan die staatshoof by Staatshuis. Christine //Hoebes, minister in die Presidensie het vir haar ingestaan. Nandi-Ndaitwah was afwesig aangesien sy by ‘n gesondheids-oord is, waar sy reeds verlede jaar bespreek het om ‘n blaaskans te neem. Die regering sê hierdie bewerings dat die twee leiers in ‘n skeuring gewikkel is, kwaadwillig, ongegrond en sonder enige waarheid.