Onduidelik of Wagner-baas ernstig was met sluiting van sy weermag

Rusland se private Wagner-weermag, wat die aanval op Bakhmut in die Oekraïne lei en aktief in Afrika was, kan binnekort ophou bestaan. Dit is volgens die stigter Yevgeny Prigozhin. Hy het met ‘n blogger op video gepraat en internasionale nuusagentskappe sê dit is nie duidelik wanneer hy die aanmerkings gemaak het nie, en ook nie hoe ernstig hy was nie. Prigozhin het herhaaldelik gekla oor hoe Rusland die oorlog in die Oekraïne voer. Hy sê dikwels die gereelde weermag gee nie sy manne die ammunisie wat hulle nodig het nie en hy beskuldig ook soms Russiese-weermagleiers van verraad.