Ondersoek volg op skietmoord van oud-LP van Indië

‘n Regs-ondersoek is gelas na die moord op ‘n gewese Indiese parlementslid, Atiq Ahmed, en sy broer Ashraf. Internasionale media berig die twee was in polisie-aanhouding buite ‘n hospitaal in Prayagraj in die noordelike Indiese staat Uttar Pradesh.  Hulle is deur drie mans doodgeskiet wat op kort afstand meer as 20 skote op hulle afgevuur het terwyl hulle joernaliste se vrae beantwoord het. Die skietery is regstreeks op televisie uitgesaai. Atiq Ahmed is skuldig bevind aan ontvoering en het aanklagte van moord en aanranding in die gesig gestaar.