Ondersoek na Freitag-skietvoorval geloods

Die buurland se polisie het met ‘n ondersoek begin nadat die voormalige wêreld-hoogspringkampioen, Jacques Freitag, met skietwonde dood aangetref is naby die Zandfontein-begraafplaas, in Pretoria. Die 42-jarige Freitag was vir twee weke vermis nadat hy in die geselskap van ‘n onbekende man by sy ma se huis weg is. Die woordvoerder van die polisie, Mavela Masondo, sê die aangeleentheid word as ‘n saak van moord beskou maar niemand is nog aangekeer nie. Volgens Masondo het die familie nog nie amptelik die liggaam uitgeken nie. Freitag het die wêreldkampioenskap op jeug-, junior en senior vlakke gewen. Hy het by die 2003 Wêreldkampioenskap in Parys goud gewen in hoogspring.