Olifante, ander diere verskuif weens Thailand-vloede

Meer as 100 olifante in die noorde van Thailand is na hoërliggende gebiede verskuif om weg te kom van vinnig-stygende vloedwater. Die direkteur van die Olifant-natuurpark in die Chiang Mai-provinsie, Saengduean Chailert, het ‘n video geplaas van die paniekbevange olifante wat in modderwater spartel en die regering gevra om dringend hulp te stuur. Video’s wys hoe modderwater deur die park stroom terwyl personeel en vrywilligers honde in komberse dra en hokke op rubberbande plaas om diere na veiligheid te bring.