Okavango-rivier styg, Kunene vertoon power

Die Namibiese Hidrologiese Diens sê die iishanas in die Cuvelai-bekken het effe gestyg na goeie neerslae in die gebied oor die afgelope dae maar, dat dit nie naastenby die vlakke van die efundja behaal het nie. Intussen styg die vlakke van die Okavango-rivier ook en is tans op 4,92 meter met vloei van 186 kubieke meter per sekonde. Die Zambezi daal steeds maar, is steeds in vloed op 4,45 meter. Vloei is op 2 550 kubieke meter per sekonde aangeteken. Die Kunene-rivier wek nie op die oomblik vreeslik krag by Ruacana op nie met vloei wat ‘n skamele 78,6 kubieke meter per sekonde meet. Damvlakke wek kommer – veral in die Ooste – met die Otjivero-dam wat op 14,7 persent staan teenoor 40 persent in dieselfde tydperk verlede jaar. Von Bach vertoon ook uiters swak op 28,7 persent teenoor 52,5 persent verlede jaar.