Oekraïne ontwrig skeepsvervoer met hommeltuigaanval
Rusland sê hy het tydelik alle beweging van skepe in die Swartsee-hawe Novorossiysk gestaak ná ‘n aanval deur Oekraïnse see-hommeltuie. Volgens berigte is ontploffings en geweervuur vanoggend in die vroeë oggendure gehoor. Moskou se ministerie van Verdediging sê twee Oekraïnse hommeltuie is gewaar en vernietig. Die hawe word gebruik vir olie, graan, kunsmis en steenkool. Botsings in die Swartsee het die afgelope weke toegeneem nadat Rusland nie ‘n ooreenkoms verleng het wat die veilige uitvoer van graan vanuit Oekraïnse hawens verseker nie.