Oath Keepers stigter skuldig aan opruiende sameswering

‘n Amerikaanse jurie het Stewart Rhodes, stigter van die verregse Oath Keepers, skuldig bevind aan opruiende sameswering in verband met verlede jaar se oproer by Capitol Hill op 6 Januarie. Rhodes staar nou ‘n maksimum vonnis van 20 jaar tronkstraf in die gesig. Medebeskuldigde, Kelly Meggs, is ook skuldig bevind aan opruiende sameswering, terwyl drie ander – Kenneth Harrelson, Jessica Watkins en Thomas Caldwell – van daardie aanklag vrygespreek is. Al vyf beskuldigdes is daaraan skuldig bevind dat hulle ‘n amptelike verrigtinge belemmer het, met gemengde uitsprake op ander aanklagte. Rhodes se prokureur sê hulle sal appelleer omdat hy nie eens op die perseel was nie. Maar, die staat sê hy het die aanval gekoördineer. Vyf lede van die Proud Boys, nog ‘n ver-regse groep, staan volgende week tereg op dieselfde klagtes.