Nuwe Nigeriese President beloof ekonomiese groei

Die nuwe Nigeriese President Bola Tinubu het tydens sy inhuldigingsplegtigheid beloof dat die land se ekonomie jaarliks met minstens ses persent sal groei, dat hy struikelblokke vir belegging uit die weg sal ruim en dat daar nuwe werksgeleenthede geskep sal word. Tinubu is vandag in die hoofstad Abuja ingehuldig. Hy het ook tydens die geleentheid aangekondig dat die brandstof-subsidie op petrol-produkte geskrap word. Dit is nie duidelik wanneer die nuwe beleid ingestel sal word nie. Die geleentheid is deur verskeie staatshoofde bygewoon, onder wie President Cyril Ramaphosa, en ook die voormalige Nigeriese President, Muhammadu Buhari.