Nuwe hoenderplaas vir Okh beplan, en die water?

Die Tender Bulletin berig dat besware teen die hersonering van deel 193 van Osona meentgrond 65 teen 13 November ingedien moet  word. Daar is aansoek gedoen om die deel, net meer as 85 hektaar groot, van onbepaald tot landbou te hersoneer vir Kadila Poultry Farming. Die grond lê volgens Stubenrauch Planning Consultants net suid van Okahandja, noordwes van die A1 hoofweg en die militêre basis. Kadila Poultry Farming wil ‘n hoenderplaas oprig en terwyl die ontwikkeling oor die algemeen goed is vir die dorp, die gebied en voedselsekerheid in die land, behoort daar kommer te wees oor watervoorsiening. Die drie sentrale damme kan nie meer voldoen aan vraag nie – veral met wisselende reënval en Windhoek se uitbreiding. Intensiewe hoenderboerdery benut 4 300 kubieke meter water per ton geproduseer.