Nored verloor N$90m deur korrupte personeel, klagtes gemaak

Plaaslike media berig dat Nored kriminele klagte teen verskeie werknemers gemaak het na daar na bewering ‘n bedrogspul was om rekenings te verlaag deur aspris kleiner fakture uit te stuur wat gelei het tot verliese van 73 miljoen Namibiese dollar. Daar is ook aantygings dat ander personeel omkoopgeld ontvang het om kliënte onwettig op die netwerk te koppel. Nored sê die totale verliese beloop 90 miljoen dollar. Die noordelike kragverspreider sukkel ‘n geruime tyd reeds en sy uitvoerende hoof Fillemon Nakashole en ander senior amptenare is in April onbepaald geskors.