Noorde-paaie sal na efundja herstel word, maar begroting moet nog bepaal word

Die Namibiese Padfonds-administrasie het beloof om die dringende herstelwerk van alle vloed-beskadigde paaie in die noorde van die land te prioritiseer. Dit is deur hoof uitvoerende beampte Ali Ipinge gesê by die oorhandiging van 600 000 Namibiese dollar op Oshakati aan die drie vloedgeteisterde streke Oshana, Ohangwena en Omusati. Hy sê hulle is bewus daarvan dat die gevolge van die vloede tyd sal neem, lank nadat die water gesak het. Hy het bevestig dat paaie wat verspoel of beskadig is en slaggate het, mettertyd herstel sal word. Die woordvoerder van die administrasie, Scheifert Shigwedha, het gesê die beskadigde paaie is geïdentifiseer, maar die koste van herstel en begrotings-aanwysing moet nog vasgestel word.