Noord-Korea se missieltoets veroordeel

Owerhede in Japan, Suid-Korea en Amerika het die Noord-Korea se missieltoets ten sterkste veroordeel. Noord-Korea sê die nuwe inter-kontinentale ballistiese missiel wat hy Donderdag getoets het, is sy kragtigste missiel nog. Die missieltoets het daartoe gelei dat ‘n noodwaarskuwing op die Japanse eiland Hokkaido geaktiveer is, hoewel die missiel toe nie Japanse grondgebied bereik het nie. Volgens Noord-Korea gebruik die nuwe missiel soliede brandstof, wat beteken dat dit op korter kennisgewing afgevuur kan word en daarom moeiliker is om betyds waar te neem en afgeskiet te word. Noord-Korea werk al ‘n geruime tyd daaraan om dié tegnologie te ontwikkel.