Nog twee Al Jazeera joernaliste in Gaza dood 

Die uitsaaier Al Jazeera van Katar sê twee van sy joernaliste is dood in ʼn Israelse aanval in die Gaza-strook. Ismail al-Ghoul en sy kameraman Rami al-Rifee is in die Al-Shati-vlugtelingkamp dood toe hulle naby die gesinswoning van Hamas-leier, Ismail Haniyeh wat Woensdag dood is, uitgesaai het. Albei het hul media-baadjies gedra en hulle voertuig was gemerk. Al Jazeera se besturende redakteur, Mohamed Moawad, sê Ismail was bekend vir sy professionalisme en toewyding om die wêreld se aandag op die lyding en wandade in Gaza te vestig.