Nóg ses geklassifiseerde dokumente by Pres. Biden se huis gevind

Amerikaanse President Joe Biden se regsverteenwoordiger het aangedui dat nog ses geklassifiseerde dokumente tydens ‘n soektog deur die departement van justisie by sy kliënt se huis in Delaware gevind is. Van die dokumente dateer uit Biden se tyd as ‘n senator en ander uit sy tyd as visepresident. Biden se regsverteenwoordigers het ‘n paar weke gelede gesê ‘n aantal geklassifiseerde dokumente is in November gevind by die kantore van ‘n organisasie wat die President in Washington DC gestig het. In Desember is nog dokumente in die motorhuis van sy huis in Wilmington gevind. Biden sê sy span het die dokumente aan die Nasionale Argief en die departement van justisie oorhandig onmiddellik nadat dit gevind is. Die Withuis sê Biden gaan voort om sy volle samewerking te gee aan ‘n spesiale ondersoeker wat vroeër vandeesmaand aangestel is.