Nog ‘n panga-aanval in ‘n natuurreservaat

Die Omaruru-polisie ondersoek ‘n saak van roof nadat ses mans gewapen met pangas werkers by die Camp Mara-huis in die Erongo Berg en Bewaringsgebied laat Maandagaand aangeval en beseer het, en hulle van hul eiendom beroof het. Die slagoffers werk almal in die reservaat. Daar is onder meer 4 000 Namibiese dollar in kontant gesteel, asook ‘n 9mm pistool, ‘n Samsung selfoon, ‘n FNB bankkaart, en ‘n groot aantal Suid-Afrikaanse pennies, alles ter waarde van sowat 30 000 Namibiese dollar. Die 67-jarige Namibiese eienaar van Camp Mara-huis is aangerand en het beserings aan sy gesig en hande opgedoen. Sy 57-jarige vroulike assistent het ongedeerd daarvan afgekom. Die polisie doen ‘n beroep op die publiek om te help met die verskaffing van enige inligting wat kan lei tot die arrestasie van die verdagtes of die terugkry van die gesteelde items.