Nog ‘n Osprey val, met een sterfgeval
Minstens een van die ses mense aan boord van ‘n Amerikaanse militêre vliegtuig is dood toe dit naby die Japannese eiland Yakushima ontplof en in die see neergestort het. Die vlieëniers van die Osprey-meerdoelige vliegtuig het toestemming gevra vir ʼn noodlanding op die plaaslike lughawe omdat een van die enjins aan die brand geslaan het, maar die vliegtuig het kort daarna van die radar verdwyn. Die Osprey, wat as ‘n helikopter sowel as ‘n skroefturbine-vliegtuig gebruik kan word, was oor die jare in ‘n rits noodlottige ongelukke betrokke.