Nog ‘n massa-ontvoering in Nigerië

Onbekende gewapende mans het minstens 287 skoolkinders in die noordwestelike streek van Nigerië ontvoer. Volgens berigte het die mans op motorfietse ná die oggend se saalbyeenkoms deur die skool in Kuriga gery en leerders tussen agt en 15 jaar saam met ʼn onderwyser ontvoer. Bendes ontvoerders, bekend as struikrowers, het die afgelope jare honderde mense veral in die noordweste ontvoer. Dit volg enkele dae nadat meer as 200 mense, hoofsaaklik vroue en kinders, na bewering deur die Islamitiese Boko Haram-groep in die noordooste van Nigerië ontvoer is.