Nog ‘n M23-aanval dood burgerlikes

Die M23-rebellegroep het die dorp Nyanzale in die ooste van die Demokratiese Republiek van die Kongo oorgeneem en minstens 15 mense in bomaanvalle doodgemaak. Isaac Kibira, ‘n adjunk van die goewerneur van die nabygeleë dorp Bambo, sê “die slagoffers is doodgemaak deur bomme wat onoordeelkundig deur die M23 afgevuur is”. Willy Ngoma, woordvoerder van M23, het in ‘n plasing op X geskryf dat Nyanzale “rustigheid en bevryding” ervaar, wat daarop dui dat die groep beheer daaroor verkry het. Nyanzale is sowat 130km noord per pad vanaf die provinsiale hoofstad Goma, en is die tuiste van duisende ontheemdes wat van gevegte in omliggende gebiede gevlug het.