Nog ‘n kleuter brand in hut dood

Nog ‘n kleuter is dood in ‘n brand na hy en ander jong kinders sonder toesig gelaat is. Die 19-maande-oue seuntjie is in ’n brand dood nadat sy ouer boetie glo met vuurhoutjies gespeel en twee hutte aan die brand gesteek het. Die voorval het Dinsdag omstreeks 2-uur die middag in Onyaluwili-dorpie in die Omusati-streek gebeur. Volgens NamPol Omusati se streeksbevelvoerder, kommissaris Ismael Basson, is die kleuter saam met twee ander kinders van twee- en ses-jaar-oud by die huis gelos deur hul ouma, wat na ‘n buurman se huis gegaan het. Die sesjarige seun het by sy ouma se kamer ingekom en vuurhoutjies gevat, waarmee hy twee hutte aan die brand gesteek het. Hy het nie geweet die kleuter het in een van die hutte geslaap nie.