NLU-lede sukkel om vleispermitte van Stad Windhoek te kry

Die Namibiese Landbou-unie ontvang talle klagtes van boere wat sukkel om permitte van Stad Windhoek te bekom om geslagte vleis in die stadsgrense in te bring. Volgens die bestaande regulasies kan ‘n persoon vleis van vee in Windhoekse grense inbring met ‘n permit mits dit vir die persoon se eie eksklusiewe huishoudelike verbruik is. Die vleis mag nie verhandel word nie en die hoeveelheid vleis is tot drie skaap- of bok-karkasse of een beeskarkas beperk. Enige persoon wat vleis in Windhoek verkoop moet aan sekere vereistes voldoen. Die diere moet by ‘n goedgekeurde abattoir geslag word. Die vleis moet geïnspekteer word, ‘n gesondheidstempel moet aangebring word, en ‘n sertifikaat moet die vleis vergesel. Die vleis moet in ‘n geskikte voertuig vervoer word.