NLU klaar EU-inspeksies, dieregesondheid uit
Die Namibiese Landbou-unie het in sy weeklikse nuusbrief verwardheid oor dieregesondheidsertifikate en EU-inspeksies uitgeklaar. Die unie sê dat in 2022 het ‘n nuwe EU-wet in werking getree wat vereis dat plase moet kwalifiseer vir EU-uitvoere deur gereeld deur ‘n veearts geïnspekteer te word. Veeprodusente wat nie diere aan die EU-mark verskaf nie, hoef nie die kwalifisering te kry nie. Maar, alle veeboere moet, volgens die regulasies van die Wet op Dieregesondheid van 2011, sekere vorms en registers op datum hou ongeag of hulle diere vir EU-goedgekeurde abattoirs produseer of nie. Die NLU sê produsente moet ook nie verward raak en dink dat die dieregesondheidsverklarings die enigste dokumentasie is wat elke ses maande ingehandig moet word nie. Dit is deel van die rekordhouding, maar daar is ander vorms en registers wat op datum gehou moet word en afskrifte moet by die plaaslike staatsveeartskantore ingehandig word.