Nieu-Seeland klop Indië, wen reeks 3-0

Krieket: Nieu-Seeland het ‘n ongehoorde 3-0 reeksoorwinning in Indië behaal. Die Swart Pette het die gashere uitgeboul vir 121 op ‘n moeilike blad vir ‘n 25-lopie-oorwinning op die derde dag van die derde en laaste toets in Moembaai. Die laaste keer dat die Indiërs so ‘n nederlaag beleef het was in 2000, in ‘n reeks van twee wedstryde teen Suid-Afrika. Die besoekers het die aanvangswedstryd in Bengaluru met agt paaltjies gewen vir hulle eerste toetsoorwinning in Indië in 36 jaar en het die reeks beklink met ‘n oorwinning van 113-lopies in Pune.