Nie alles oor olie-kontrakte kan geopenbaar word nie

Immanuel Mulunga, die geskorste besturende direkteur van Namcor, het met plaaslike media gepraat oor die onlangse aanmerkings deur die goewerneur van die Bank van Namibië Johannes !Gawaxab. Volgens !Gawaxab is die korrekte raamwerk en deursigtigheid uiters belangrik vir die plaaslike petroleumbedryf. Volgens Mulunga, is daar klousules in Namibië se olie-ooreenkomste met internasionale korporasies wat vertroulikheid vereis en nie met die publiek gedeel kan word nie. Hy sê, as onderneming in staatsbesit, onderskryf Namcor deursigtigheid maar, die maatskappy is ook ‘n kommersiële entiteit, so nie alles rakende sy sake kan in die openbaar wees nie. Inteendeel, van die ooreenkomste wat onderteken is, is onderhewig aan vertroulikheidsklousules.