Nictus-groep presteer uiters goed
Plaaslik genoteerde Nictus Holdings het ‘n bedryfswins van sowat 76,25 miljoen Namibiese dollar gemaak vir die jaar wat op 30 Junie 2024 eindig, byna 29,8 miljoen dollar meer as in die vorige boekjaar. Inkomste van nagenoeg 921,5 miljoen dollar is gerapporteer in Nictus se finansiële resultate. Volgens Nictus het sy meubelafdeling merkwaardige groei beleef, aangedryf deur verhoogde verbruikersvraag en doeltreffende bemarkingstrategieë. Oor die voertuigafdeling sê Nictus die motorsektor het sy eie uitdagings gehad, maar dit het bevredigend in ’n versadigde mark gevaar. Nictus sê sy eiendomsegment het bestendige groei ervaar, met strategiese beleggings wat positiewe opbrengste opgelewer het. Die groep se versekerings- en finansieringsegment het noemenswaardige groei en veerkragtigheid getoon, met ‘n groeiende kliëntebasis en sterk retensiekoerse.