Net twee-derdes van N$9 miljard kan by NSFAF verhaal word, sommige studente al dood

Daar word berig dat oud-studente van die Namibiese studente-hulpfonds, NSFAF, die fonds 9 miljard Namibiese dollar skuld. Die hoë studenteskuld word toegeskryf aan meer as 132 000 begunstigdes wat nie enige terugbetalings aan die fonds sedert sy stigting gemaak het nie. NSFAF se waarnemende uitvoerende hoof, Kennedy Kandume, sê slegs 3,6 miljard Namibiese dollar hiervan is verhaalbaar te midde van aanduidings dat van die wanbetalende begunstigdes reeds gesterf het. Hy voeg by dat daar voorheen onvolhoubare toekennings gemaak is wat sedertdien aangepas is. Intussen is die fonds vanjaar 1,6 miljard Namibiese dollar in die begroting toegeken, en voorspel 17 000 nuwe inskrywings. Kandume het egter opgemerk dat die geld onvoldoende is om aan die fonds se behoeftes te voorsien. Intussen sal NSFAF beslagleggingsbevele bekom op die bankrekeninge van 88 640 ekonomies aktiewe oud-begunstigdes wat gesamentlik die fonds 4,215 miljard dollar skuld.