Net ‘n derde van Namibiërs glo Nampol is professioneel

Die Namibiese polisie se optrede op Okahandja, waar vyf vermeende rowers doodgeskiet is, bly in die nuus met veral die polisie se optrede wat onder die soeklig kom. Afrobarometer se jongste peiling toon dat net 33 persent van Namibiërs glo dat die polisie altyd professioneel optree en met respek vir regte burgerlikes behandel. Ongeveer 38 persent sê dis moeilik om polisiebystand te kry wanneer ‘n mens dit nodig het, met 18 persent wat sê hulle moes omkoopgeld betaal. ‘n Verdere 19 persent het omkoopgeld betaal om probleme te vermy. In terme van korrupsie meen 32 persent van respondente dat die Namibiese polisie korrup is met 65 persent wat meen beamptes neem deel aan misdaad. Net meer as ‘n kwart, 28 persent, sê die polisie gebruik oormatige geweld.